Maansie

Maansie het in sy vroeë tienerjare in 'n toestand van haglike verwaarlosing by die kinderhuis op Ugie aangekom. Hy was daarby erg verstandelik gestrem.  Toe ons hom die Vrydagmiddag by die stasie gaan haal, was al sy aardse besittings in 'n geel plastieksak in sy hand – benewens die hoed op sy kop.  Met vreesbevange oë het hy ons na die motor vergesel. Só het 'n lewenslange verbintenis tussen my, Louise en Maansie begin.
Maansie se hoed was sy enigste werklike besitting en hy sou dit met sy lewe beskerm.

Dit was 'n puntige vilthoed met 'n breë slap rand wat oor sy voorkop afgesak het en byna sy pragtige oë bedek het. Die hoed het hy later verduidelik, was die enigste ding wat hom aan sy oorlede ma verbind het. Sy tenger lyfie het getuig van mishandeling en ondervoeding.
Sy groot bruin oë het wantrouig onder die hoed uit na ons gekyk en elke beweging noukeurig beoordeel om te sien of hy ons kon vertrou.

Dis al duisende male gesê, maar dis onomstootlik waar:  kinders kan wreed wees sonder om die gevolge van hul optrede te verstaan.
So het Maansie spoedig die voorwerp van hul spot geword. Jy kan 'n kind nie altyd beskerm nie, al het ons harte in deernis na hom uitgegaan. As dinge te erg geword het, moes ons streng optree.
Maansie was die kwesbaarste waar dit oor sy hoed gegaan het en die kwajongens het dit gou agtergekom en uitgebuit.

Dit het dikwels gebeur dat Maansie op die speelterrein gestaan het en dat 'n rakker van agter sou kom, sy hoed van sy kop af ruk en daarmee weghol.  Met lang, lomp treë sou Maansie die skuldige agternasit totdat dié hom sou laat inhaal om net maar vir Maansie te verduidelik dat 'n ander seun die hoed weer van hom afgevat het.  Dan moes Maansie weer 'n nuwe treiteraar in 'n ander rigting volg.
So het dit aangegaan totdat die arme seun natgesweet nie verder kon hardloop nie.

Louise met die jammer hart het keer op keer die wrede speletjie stopgesit.  Hoe ons ook gesoebat het, Maansie wou nie van sy hoed afstand doen nie – wat sou sy ma dan van hom dink?  
Maansie se lewe het in die kinderhuis 'n ander dimensie betree: dié van godsdiens. By al die mooi dinge wat hy daarin ontdek het, was een van die opwindendste vir hom die Hemel en die feit dat ons daar by ons dierbares en die Here sou wees.  Ongelukkig het dié nuwe kennis sy verknogtheid aan sy hoed net verinnig.  Hy het telkens vir ons gesê dat hy 'n hoed moet hê sodat wanneer hy voor die Groot Koning kom, hy dit met eerbied van sy kop kan afhaal.

Ons het later daarin geslaag om vir Maansie ander en beter hoede te laat dra, maar sy vilthoed het hy vir jare in sy bed weggesteek.  Die tyd het aangebreek dat Maansie na 'n nywerheidskool oorgeplaas moes word.  Ons harte het vir hom gebloei en ons het gebid dat die lewe vir hom goed sou wees.  Die losmaak van ons bande met hom was vir ons net so pynlik soos vir hom.
Kort voor sy vertrek het hy een middag in my studeerkamer met 'n versoek gekom: sou ek nie vir hom 'n getuigskrif gee soos ek vir matriekleerders gee nie?

Hier was nou 'n geleentheid om iets positiefs vir Maansie te doen. Ek het al die mooi dinge wat ek met eerlikheid oor Maansie kon sê, bymekaargesit en vir hom 'n netjiese getuigskrif getik wat meer na 'n liefdesverklaring as 'n getuigskrif geklink het.  Oor die jare het ons met hom kontak behou en ons gebede dat die lewe vir hom goed sou wees, is bewaarheid. Hy het 'n vaste werk gehad waarin hy jare getrou was en nooit eenmaal van werk verwissel het nie. Hy het ook sy pasvroutjie, Hannatjie, gekry, oor wie hy dikwels teenoor my gespog het.

Dit was juis Hannatjie wat onlangs bel met die nuus dat Maansie oorlede is.  Sy vertel toe van sy twee kosbaarste besittings: sy hoed en sy getuigskrif.  Die vergeelde getuigskrif het hy laat raam, in die voorkamer van hul huis gehang en met trots vir elke gas gewys.

Maansie se laaste versoek voor sy dood? Of Hannatjie nie asseblief sal sorg dat sy jongste hoed en sy getuigskrif met hom in die kis geplaas word nie, want het hy verduidelik, hy kan nie goed praat nie en dan kon hy darem, as hy sy hoed in eerbied voor die Groot Koning afhaal, die getuigskrif toon om te wys wie hy was.  Toe ek in die vroeë oggendure dié nuus kry, het 'n groot hartseer oor my gekom.

Ek het oor Valsbaai uitgekyk met 'n wasigheid in my oë.  Toe sien ek die reënboog wat die baai oorspan. Totsiens Maansie, ons sal jou nooit vergeet nie.  Die Groot Koning sal jou met liefde en blydskap ontvang, want het Sy Seun dan nie gesê nie: “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel.”

Deur Solly Ozrovech
Met dank aan Barry Pretorius