Liewe Ma en Pa,
Dit gaan goed met my en met julle?
Sê vir boetie Wouter en boetie Koos dat om in die Army te wees baie
lekkerder is as om vir Oom Piet te werk. Hulle moet sommer gou kom
aansluit voordat al die plekke gevul word.
Ek was eers baie ongemaklik omdat mens in die bed moet bly tot amper
06:00, maar nou geniet ek dit om so laat te kan slaap. Sê vir Wouter en
Koos al wat mens voor ontbyt moet doen, is om jou bed netjies en glad te
maak en goed blink te vryf. Nikse gevarke voer, koeie melk, mampoer meng
of braaihout kappery nie. Jy doen amper niks! Manne moet nog skeer, maar
dis nie so erg nie, want daars warm water.
Brekfis is sterk op vrugtesap, pap, eiers en bacon, maar minder sterk op
steaks, boerewors, tjops, aartappels en goed soos vetkoek. Maar sê vir
hulle jy kan altyd tussen twee dorpsjapies wat net van koffie leef, gaan
sit. Hulle kos plus joune hou mens darem vol tot twaalfuur toe wanneer jy
weer gevoer word.
Hierdie dorpsjapies kan nie juis ver stap nie. Ons gaan op roetemarse, wat
ons sal taai maak, sê die Sersant. As hy so dink is dit mos nie my plek om
hom reg te help nie. 'n Roetemars is omtrent so ver soos tot by ons
posbus by die huis. Dan kry die dorpsjapies seer voete en ons almal ry dan
terug in lorries. Die veld is mooi, maar baie plat.
Julle gaan julle morsdood lag as julle hiervan hoor. Ek bly medaljes kry
vir skiet. Ek weet nie hoekom nie. Die bulls-eye is net so groot soos 'n
dassie se kop en beweeg glad nie eers nie. En dit skiet nie eers terug
soos daai bleddie Venters van die buurplaas nie. Al wat jy moet doen is
om doodstil te lê en dit raak te skiet Jy hoef nie eers jou eie
ammunisie te maak nie, dit kom in bokse.
Dan is daar wat hulle noem "hand-to-hand combat training". Jy stoei met
die dorpsjapies van die stad af. Ek moet versigtig wees, want hulle kry
maklik seer. Dis nie soos om met ons ou bul, Swart Duiwel, by die huis te
stoei nie.
Ek is omtrent die beste wat hulle in hierdie peleton het, behalwe vir
Groot Jan Jordaan van die Bosveld. Hy het saam met my aangesluit. Maar ek
is omtrent 5 voet 6 en weeg 70kg en hy is 6 voet 8 en weeg maklik 150kg,
droë gewig.
Sê tog my boeties moet gou maak en aansluit voordat ander ouens uitvind
van die ongelooflike Army setup en aangestorm kom!
Julle liefdevolle dogter
Ester