Die waterryke plaas Elandspoort, wes van die
destydse Apiesrivier, is in 1855 as die nuwe
regeringsetel van Transvaal aangewys.
Die plaas het behoort aan veldkornet Andries P.
van der Walt. Marthinus Pretorius, die eerste
president van Transvaal, het die nuwe
dorpsgebied Pretoria Philadelphia (“Pretoria van
broederliefde”) gedoop, ter ere aan sy pa, die
vermaarde Voortrekkerleier Andries Pretorius, en
sy broers.
Die ouer Pretorius was destyds skaars twee jaar
dood en het hoë aansien onder die Boere geniet,
veral vanweë sy rol as bevelvoerder tydens die
Slag van Bloedrivier in 1838 toe ’n klein
groepie Voortrekkers hulself suksesvol teen ’n
Zoeloe-oormag verdedig het.
Andries Pretorius het egter ’n donker geheim
gehad waarvan min mense vandag weet en wat baie
historici deur die afgelope dekades óf aktief
verswyg óf probeer wegverduidelik het.
Die groot Voortrekkerleier en die man na wie
Pretoria genoem is, het in 1844, skaars ses jaar
ná Bloedrivier, onder baie verdagte
omstandighede ’n kind verwek by ’n minderjarige
meisie wat in sy sorg was.
Pretorius en sy sieklike vrou, Christina
Petronella (sy is in 1848 oorlede), het destyds
op die plaas Welverdiend naby Pietermaritzburg
geboer.
Pretorius was in dié stadium ’n vermoënde man.
Saam met hulle op die plaas het ook ’n
bywonersfamilie, Johan Hendrik de Beer, sy vrou,
Martha Louisa, en hul jong dogter, Anna
Christina Arnoldina, gewoon.
Uit die historiese rekords is dit duidelik dat
Pretorius in ’n stadium die egpaar De Beer gevra
het om sy plaas te verlaat, maar dat die jong
Anna in Pretorius en sy vrou se sorg geplaas is
sodat Anna met haar skoolopleiding kon
voortgaan.
Dié reëling het egter later verskriklik
skeefgeloop. In regs- en hofdokumente in die
Pietermaritzburgse argief word beweer dat
Andries Pretorius in die maande ná haar ouers
die plaas verlaat het, verskeie kere probeer het
om Anna de Beer seksueel aan te rand. Sy het
egter blykbaar telkens daarin geslaag om haar
teen die ouer man (Pretorius was toe in sy
veertigs) te verweer.
Gedurende Augustus 1844 beveel Pretorius vir
Anna om na sy ander plaas, wat in die omgewing
van die Umgenirivier geleë is, te gaan. Dié
plaas is deur sy seun, Marthinus Wessel, later
president van die Zuid-Afrikaansche Republiek,
bewoon.
Anna verklaar later dat Andries Pretorius in
September op die plaas opgedaag het en dat hy
daar, ná dreigemente en geweld, oor ’n tydperk
van ’n paar dae herhaaldelik met haar seks gehad
het.
Anna het daarna swanger geraak, maar voordat
die kind gebore is, is sy getroud met Theunis
Botha, ’n ongeletterde houtkapper van die
omgewing. Hulle is in Maart 1845 in die
Geloftekerk op Pietermaritzburg in die huwelik
bevestig, twee en ’n half maande voordat Anna
Christina Arnoldina (sy het dieselfde name as
haar ma gekry) op 15 Junie gebore is.
Ná die kind se geboorte het Anna vir Andries
Pretorius genader om geldelike bystand met die
onderhoud van die baba. Sy het aangedring op die
bedrag van een pond sterling per maand totdat
die kind mondig sou wees.
Dokumente in die Pietermaritzburgse argief toon
dat Pretorius dié versoek geweier het, maar
pleks daarvan dat hy ontken het dat dit sý kind
was, haar die bedrag van 45 pond sterling (die
waarde van 200 skape) aangebied het, mits sy hom
kwytskeld van “alle en verdere eise”. Anna was
nie hiervoor te vinde nie en het gehou by haar
aanvanklike versoek van een pond per maand vir
21 jaar, dus ’n bedrag van 252 pond (of die
waarde van 1117 skape).
Op 21 Februarie 1846, toe haar babatjie
ongeveer agt maande oud was, gee Anna aan haar
prokureur, John George de Villiers, opdrag om ’n
eis vir onderhoud teen Andries Pretorius in te
stel. Toe Pretorius weier om te betaal, beteken
die balju in Junie 1846 ’n dagvaarding aan
Pretorius waarin hy gelas word om in die hof te
verskyn “om rede te gee, indien enige” waarom hy
nie vir die onderhoud van die kind aanspreeklik
gehou moet word nie.
“Die genoemde Klaagster is die Moeder en die
genoemde Verweerder is die Vader van die kind,
wat voortspruit uit verskeie kere se vleeslike
konneksie (carnal connection) tussen die
Klaagster en die Verweerder, binne hierdie
distrik, voor 15de Junie in die jaar van Onzes
Heeren 1845.”
Op 4 Augustus 1846 dien sy prokureur, Walter
Harding (wat later sir Walter Harding, die
hoofregter van Natal, sou word), ’n dokument by
die aanklaer in waarin hy vra dat Anna de Beer
se aansoek om onderhoud met koste van die hand
gewys moet word.
As redes voer hy aan dat Anna se verklaring nie
met die dagvaarding ooreenstem nie. Ter stawing
van die aansoek verklaar Pretorius plegtig:
“Lank voor die 15de Junie 1845 was die Klaagster
getroud en het met haar eggenoot, die gemelde
Theunis Botha, saamgeleef, en die gemelde
vroulike kind vir wie daar nou om onderhoud in
hierdie saak gevra word, is dus binne die
wettige eg gebore.”
In dieselfde verklaring maak Pretorius egter
ook melding daarvan dat hy aan Anna 45 pond
aangebied het vir onderhoud op voorwaarde dat sy
alle eise teen hom laat vaar. Dit is ’n aanbod
wat sy van die hand gewys het.
Die hofsaak is aanvanklik vir 8 September 1846
geskeduleer, maar op Pretorius se aandrang word
dit uitgestel tot 22 September 1846 en later
weer tot 29 September 1846.
Anna en haar getuienis woon egter nie die saak
op 29 September by nie en in haar afwesigheid
word geen getuienis geroep nie. Die Distrikshof
van Natal het gevolglik vir Andries Pretorius
kwytgeskeld en Anna moes sy koste van 25 pond,
ses sjielings en drie-en-’n-half pennies betaal
(die waarde van 112 skape). Dit moes ’n
reuse-bedrag vir sulke arm mense soos Anna en
haar man gewees het.
Die argiefrekords laat egter talle
onbeantwoorde vrae. Kwessies soos: Is Anna reg
en was Pretorius werklik die kind se pa? As die
houtkapper Botha wel die pa was, soos Pretorius
voorgegee het, waarom het Anna voortgegaan om
Pretorius te dagvaar selfs nadat Botha met haar
getrou het?
As Pretorius die pa was, het hy Anna verkrag of
het sy ingestem tot seks? Hoe oud was sy tydens
die voorval? Hoewel haar ouderdom nie bo alle
twyfel vasgestel kan word nie, dui
omstandigheidsgetuienis daarop dat sy beslis
jonger as 18 was.
Het Anna dalk vir Pretorius ’n seksstrik gestel
in ’n poging om aan haar eie haglike
omstandighede te ontsnap? Was hy dalk die
slagoffer van ’n politieke komplot teen hom? Of
dui die feit dat hy haar na ’n ander plaas, weg
van sy sieklike vrou, geneem het daarop dat hy
voorbedagte rade met haar gehad het?
Andries Pretorius se biograaf, prof. B.J.
Liebenberg, beweeg taamlik ligvoets oor dié
bewe-ringe sonder om ooit ernstig die
moontlikheid te oorweeg dat Pretorius wél
skuldig kon wees aan verkragting of
kindermolestering.
In sy boek oor Pretorius wat in 1977 verskyn
het, kritiseer hy Harding se vertoë tot die hof
as “beuselagtig” en “verspot” en verklaar dan
dat Pretorius volgens hom duidelik onskuldig is.
Die hele klag was, volgens Liebenberg, ’n
komplot.
Die enigste ander rede wat hy hiervoor aangee,
is dat die vrou van Martin West, die
luitenant-goewerneur van Natal, tydens ’n
private dans en soirée op 23 September – ses dae
vóór die hofsaak – met Pretorius sou gedans het.
In Liebenberg se oë is dit ondenkbaar dat die
vrou van ’n hoë amptenaar sou dans met ’n man
oor wie se kop ’n verkragtingswaard gehang het.
Dit mag só wees, maar die beskikbare
argiefgetuienis suggereer dat die “vader van
Pretoria” effens meer het om te verduidelik.
* Dr. J.C. van der Walt is ’n historikus en
navorser van Richardsbaai.
Die plaashuis op Welverdiend net
buite Pietermaritzburg waar Andries Pretorius en
sy vrou in die tyd van die voorval gewoon het.
Dié foto is in 1932 geneem.
|