Die afgelope tien jaar het dié ekstremistiese
Moslem-groep groot en gebiedende hoogtes
bereik, maar ook ’n hele paar terugslae en
rampe beleef.
Ten spyte daarvan dat 11?September 2001 ’n
hoogtepunt in Al-Qaeda se terreurveldtog was,
het dit die organisasie ook tot op die rand
van ineenstorting gebring. Die aanvalle het
die bedreiging wat internasionale terrorisme
inhou, duidelik aan wêreldleiers gedemonstreer
en hulle gedwing om saam met Amerika te werk
om dit te bekamp, of om die risiko te loop om
die wêreld se enigste supermoondheid die hel
in te maak.
Regerings wat vóór die aanvalle nie veel
aandag geskenk het aan optrede teen terreur
nie, soos onder meer die Filippyne en
Duitsland, het skielik begin om vermeende
terroriste te monitor, te arresteer en hul
werksaamhede aan bande te lê.
Hierdie aktiwiteite het heelwat inligting oor
terrorisme opgelewer wat dit baie moeiliker
gemaak het vir Al-Qaeda om voort te gaan soos
tevore.
Meer dramaties nog het Amerikaanse magte, met
die hulp van Afgaanse opposisiegroepe, die
regerende Taliban in Afganistan uit die
kussings gelig. Dit was ’n dubbele terugslag.
Die Taliban het jare lank aan Al-Qaeda ’n
veilige heenkome verskaf en die groep se lede
moes nou vlug na die meer gevaarlike Pakistan.
Die Taliban was in talle djihadiste se oë die
wêreld se enigste werklike Islamitiese
regering. Baie het Al-
Qaeda dus nou geblameer vir die vernietiging
van die enigste “ware” Islamitiese staat.
Al-Qaeda is uiteindelik gered deur Amerika se
inval in Irak, sowel operasioneel as
ideologies. Die oorlog het Osama bin Laden die
geleentheid gegee om skeptiese volgelinge te
oortuig dat hy die hele tyd reg was: Dat dit
wél Amerika se doel was om die Islamitiese
wêreld te oorheers. Dit het ook ’n nuwe
generasie vegters gemotiveer om vir ’n djihad,
of heilige oorlog, Irak toe te gaan.
In die proses het Amerika erg gely. Die land
het meer as 6?000 troepe verloor in die oorlog
in Afganistan en Irak. Dit is meer as dubbel
soveel mense as wat op 9/11 dood is. Die
oorlog het hulle ook miljarde dollar uit die
sak gejaag.
Boonop is langtermyn-sukses in geen van dié
lande verseker, of selfs waarskynlik, nie.
Al-Qaeda beweer dat die oorlog in Afganistan
gedurende die 1980’s Rusland bankrot gemaak
het en uiteindelik tot die ineenstorting van
die Sowjetunie gelei het. Net só het Irak
Amerika tot op die rand van bankrotskap
gedryf.
Al-Qaeda het egter te ver gegaan in Irak. Die
Irakiërs het dankbaar Al-Qaeda se hulp aanvaar
in hul geveg teen Amerikaanse troepe, maar
splintergroepe met Al-Qaeda-bande het heel gou
self die mag probeer oorneem en het begin om
Irakese burgerlikes te vermoor. Die
Soennitiese Moslems het teen hulle gedraai en
saam met die Amerikaanse magte begin werk om
Al-Qaeda in Irak te vernietig.
Buite die land het Moslems wat aanvanklik
baie krities was oor Amerikaanse optrede
mettertyd al hoe meer krities geword oor die
Moslem-teen-Moslem-geweld.
Maar soos Al-Qaeda se ster in Irak verskiet
het, het sy invloed in Pakistan gegroei.
Sedert die beweging se stigting het Al-Qaeda
sterk bande met Pakistan gehad, maar hy was
teen die toue nadat die Pakistanse regering ná
9/11 met die Amerikaners begin saamwerk het om
groot operateurs, soos die 9/11-baasbrein
Chalid Sheikh Mohammed, te arresteer.
Langsamerhand is Amerika se aandag egter al
hoe meer deur die gebeure in Irak afgelei.
Intussen het Pakistan al hoe meer chaoties
begin raak met ’n klomp radikale groepe
(sommige met Al-Qaeda-bande) wat teen die
Pakistanse regering in opstand gekom het.
Die meeste van die terroriste-aanvalle wat
die afgelope tien jaar in Europa plaasgevind
het, het hul oorsprong in Al-Qaeda-groepe
binne Pakistan.
Al-Qaeda is intussen egter ook gekonfronteer
deur die Arabiese opstande van vroeër vanjaar.
Vir baie Arabiere, moeg van korrupte,
onbevoegde en diktatoriale regerings, was daar
nou ’n nuwe model: Om vreedsaam te betoog vir
’n regime-verandering wat nie gewelddadige
aanvalle op die VSA ingesluit het nie.
Om die waarheid te sê het die VSA-regering,
wat lank reeds die ondersteuner van diktators
in die streek was, gehelp om die Egiptiese
president, mnr. Hosni Moebarak, uit te stoot
en om Moeammar Ghaddafi uit die kussings te
lig – ten spyte daarvan dat al twee voorheen
gehelp het om op Al-Qaeda te spioeneer.
Asof die “Arabiese Lente” nie genoeg was nie,
is Bin Laden boonop deur Amerikaanse spesiale
magte opgespoor en doodgemaak.
Die glibberige Bin Laden, wie se vermoë om
telkens die dood vry te spring deur sy
volgelinge as niks minder nie as ’n wonderwerk
beskou is, is as leier opgevolg deur die vaal
en verdelende Aiman al-Zawahiri.
Behalwe vir Bin Laden het die organisasie ook
die laaste paar jaar verskeie leiers verloor
in bomaanvalle deur Amerikaanse onbemande
vliegtuie.
Dié aanvalle het natuurlik ook bestaande
werwers, opleiers en bevelvoerders gedwing om
hul koppe laag te hou, wat hulle baie meer
ondoeltreffend gemaak het.
Sommige Amerikaanse amptenare glo selfs dat
die organisasie op die punt staan om heeltemal
in duie te stort.
Selfs al is dit waar, het Al-
Qaeda die afgelope dekade ’n paar beduidende
suksesse gehad.
Sy eens kontroversiële taktieke is nou ’n
gereelde, verskriklike deel van die moderne
lewe. Ongeveer 20 jaar gelede was
selfmoordbomaanvalle ongehoord onder
Soennitiese Moslemgroepe. Ook het hierdie
Soennitiese groepe gewoonlik hul woede gerig
op plaaslike regimes, nie op Amerika nie.
Deesdae is die Al-Qaeda-ideologie aanwesig in
gebiede so uiteenlopend soos Indonesië,
Nigerië, Sentraal-Asië en sy tradisionele
tuistes soos Suid-Asië en die Arabiese wêreld.
Al-Qaeda kan hom ook daarop roem dat hy die
VSA gedwing het om sy ware kleure te wys.
Die Amerikaanse militêre teenwoordigheid in
Irak en Afganistan, asook die groeiende
militêre rol in Jemen en Somalië, demonstreer
– veral vir dié wat gretig is om dit te glo –
dat Amerika daarop uit is om die Moslem-
wêreld te domineer.
Peilings onder Moslem-gemeenskappe oor die
wêreld heen toon dat hulle ’n swak beskouing
van Amerika het.
Terwyl Al-Qaeda se kern in die moeilikheid
mag wees, is sy suster-organisasies steeds
sterk. In Irak, Jemen, Somalië en in die
Maghreb is Al-Qaeda-afdelings besig om teen
hul regering te rebelleer, en so ook in
Afganistan en Pakistan.
Hulle mag verskil in die mate waarin die
moederorganisasie steeds beheer oor hulle het
en of hul fokus plaaslik eerder as
internasionaal is, maar hulle deel minstens
sommige van Al-Qaeda se ideologieë en
doelwitte.
Al wat ’n mens
dus met sekerheid oor Al-Qaeda kan sê, is dat
dit ’n organisasie met ’n indrukwekkende
oorlewingsvermoë is.
Daniel Byman is ’n professor in
sekerheidstudie aan die
Georgetown-universiteit en ook verbonde aan
die Brookings Institution.
Met vergunning van Slate Magazine.