Selfoon, slimfoon, superfoon

 








Op 3 April 1973 het Martin ­Cooper, adjunkvoorsitter van die selfoonvervaardiger Motorola, ten aanskoue van ’n groep joernaliste die eerste selfoonoproep gemaak.

Sy foon, Motorola se DynaTac, het net minder as 1 kg geweeg, was langer as 25 cm en het tien jaar later die mark getref met ’n prysetiket van byna $4 000 en ’n batterylaaityd van tien uur.

Met dié enkele oproep – na sy grootste mededinger, die telekommunikasiereus AT&T – het Cooper ons wêreld onomkeerbaar verander.

Oor die volgende klompie dekades het selfoontegnologie internasionaal drasties ontwikkel en ook na Suid-Afrika uitgekring.

Maar dié ontluikende tegnologie is nie oral met geesdrif begroet nie.

In September 1993 skryf die Cape Argus-joernalis David Biggs in sy rubriek Tavern of the Seas: “Ek kan nie help om in my mou te lag as ek luister na al die twak wat oor sellulêre telefone gepraat word nie ...

Hierdie telefone sal (glo) die klein- sakeman in staat stel om ’n telefoon by sy groentestalletjie of in sy bakkie te hê.

Mense in plakkerskampe en informele nedersettings sal (hul eie) telefone kry. Loodgieters en elektrisiëns sal in staat wees om met hul kliënte in kontak te bly waar hulle ook al is. Asseblíéf.”

Vroeg die oggend van 1 Junie 1994 moes Biggs waarskynlik op sy neus kyk toe Suid-Afrika se eerste twee netwerkverskaffers, Vodacom en MTN, hul diens aanskakel en sowat 24 000 Suid-Afrikaners vir die eerste keer oor ’n selfoon praat.

Sedertdien is daar geen keer nie. In 2001 het Cell C as derde plaaslike netwerkverskaffer tot die toneel toegetree.

Terwyl Cell C net die plaaslike mark bedien, is sowel Vodacom as MTN bedrywig in die res van Afrika.

Vandag het Vodacom meer as 50 miljoen intekenare, MTN byna 190 miljoen en Cell C meer as 10 miljoen.

En ja, die kleinsakeman hét sy selfoon – van Khayelitsha tot Katlehong is selfone g’n vreemde verskynsel nie en vir loodgieters en elektrisiëns is ’n foon ’n onontbeerlik item in hul toolboxes.

Intussen, hoe sterker die selfoon word, hoe kleiner word die toestel.

“Die selfoon is op sy dunste, gladste en ligste tot nog toe,” sê Arthur Goldstuck van die Randburgse tegnologienavorsingsmaatskappy World Wide Worx. Maar, meen hy, die beste kom nog.

Die nuwegeslag-fone wat vanjaar nog bekend gestel gaan word, is nie net slimfone nie, maar superfone.

Verder wys hy op die tendens dat die toestelle toenemend met mekaar gaan kommunikeer.

“Jou selfoon (gaan) met jou rekenaar ‘praat’ en binnekort gaan toestelle soos jou kamera, GPS en selfs motorradio ook kan ‘saamgesels’...”

* Lees ook die hoofartikel.

 Kliek op die grafiek vir 'n groter weergawe